Neil Armstrong

Neil Armstrong
Neil Armstrong in Julie 1969
Gebore
Neil Alden Armstrong

(1930-08-05)5 Augustus 1930
Sterf25 Augustus 2012 (op 82)
NasionaliteitVlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Beroepruimtevaarder, vegvlieënier
Bekend vireerste man wat op die maan geloop het
EggenootJanet Shearon
Kinders2
Ouer(s)Stephen Koenig Armstrong
Viola Louise Engel
Handtekening

Neil Armstrong (5 Augustus 193025 Augustus 2012) was 'n Amerikaanse ruimtevaarder, wat op 20 Julie 1969 om 22:56 (VS Oostelike Dagligtyd) die eerste mens geword het wat op die maan geloop het.[1] Vier dae vroeër, op 16 Julie 1969, het Armstrong, Edwin Aldrin en Michael Collins in die Apollo 11 van die aarde opgestyg onderweg na die maan. Die beveltuig, geloods deur Collins, het in 'n lae wentelbaan om die maan gebly terwyl Armstrong en Aldrin die moedertuig in die "Eagle"-maanlandingstuig verlaat het. Hulle het op 'n stowwerige vlakte naby die "See van Kalmte" (Mare Tranquillitates) geland, en Armstrong was die eerste wat op die maan uitgestap het met die historiese woorde "That's one small step for man, one giant leap for mankind" (hy moes natuurlik gesê het "That's one small step for a man...", maar in die opgewondenheid van die oomblik het hy hom verspreek – ook maar net mens).

Armstrong en Aldrin het 2 uur 36 minute op die oppervlak van die maan deurgebring, foto's geneem, die Amerikaanse vlag geplant, wetenskaplike instrumentasie opgestel, 23 kg monsters van die oppervlakmateriaal versamel en 'n gedenkplaat onthul met die woorde: "Here Men From Planet Earth First Set Foot Upon the Moon. July 1969 AD. We Came In Peace For All Mankind" (Hier het mense van planeet Aarde vir die eerste keer hul voete op die maan geplaas. Julie 1969 n.C. Ons kom in vrede vir die ganse mensdom). Op 21 Julie 1969 het hulle 'n rendezvous met die beveltuig gehad en ná 8 dae, 3 uur en 18 minute in die ruimte op 24 Julie in die Stille Oseaan neergeplons, waar hulle opgepik is.

Die drie Apollo 11-ruimtevaarders is met hul terugkeer na die aarde as helde ontvang. Armstrong het die Medalje van Vryheid, die hoogste toekenning aan 'n Amerikaanse burgerlike, ontvang. Hy het ook die NASA Medalje vir Voortreflike Diens, die NASA Medalje vir Uitsonderlike Diens, sewentien medaljes van ander lande en die Kongres-ereruimtemedalje ontvang.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search